| Rovumarivier | |
|---|---|
|
Die stroomgebied van die Rovumarivier | |
| Oorsprong | Net oos van die Malawimeer, Tanzanië (Matagoraberge) |
| Monding | Op die grens tussen Tanzanië en Mosambiek Indiese Oseaan |
| Stroomgebied | Tanzanië, Mosambiek |
| Lengte | 640km |
| Oorspronghoogte | 800m |
| Mondinghoogte | 0m |
| Gemiddelde afloop | 891m³/s |
| Stroomgebiedopp. | 155500km² |
| Kaart van die Rovumarivier-bekken in Afrika. | |
Die Rovumarivier (Rio Rovuma, Ruvumarivier) vorm die grens tussen Tanzanië en Mosambiek.
Oorsprong
[wysig | wysig bron]Die Rovuma ontspring by 10° 45′ suid en 35° 45′ oos, op 'n hoogte van 'n 1000m bo seespieël in die Matagoraberge, 50km suid van die dorp Songea in die suidweste van Tanzanië. Dit is net oos van die Malawimeer.
Stroomgebied
[wysig | wysig bron]Daarna vloei dit 110km suidwaarts tot die punt waar die Messingerivier uit die suidweste aansluit. Vanaf ongeveer daardie punt vloei die rivier oos en is dit vir 650km die grens tot by die deltamonding in die Rovumabaai. Dit is suid van Mtwara, 430km suid van Dar-es-Salaam en 'n 30km noord van Cabo Delgado. Die rivier het 'n opvanggebied van 165 750km², waavan ⅔ in Mosambiek geleë is. In die reëntyd is die rivier soms meters en die delta selfs 'n kilometer breed. In die droë jaargety kan 'n mens egter deur die rivier loop. Daar is baie sandbanke, rotse, stroomversnellings en selfs bewoonde eilande. 'n Ryke verskeidenheid visspesies kom die die rivier voor.
Sytakke
[wysig | wysig bron]Die beduidendste sytak is die Lugendarivier (Rio Lugenda) wat op 11 25 suid en 38 31 oos tussen Gomba en Masuguru by die Rovuma anasluit. Dit ontspring in die suidooste van Malawi in die Chiutameer op die grens tussen Malawi en Mosambiek. 'n Ander vername boloop is die Messinge. Kleiner strome wat vanuit Mosambiek aansluit is die Chiulezi-, Ludimile-, Lusanhandra- en die Lucheringoriviere. Uit Tanzanië kom die Mbangala-, Lukwika-, Lukwamba-, Sasawara-, Msangesi- en die Lukimwariviere se water tot by die Rovuma.
Vervoer
[wysig | wysig bron]Die rivier is eintlik net bevaarbaar met kano’s. Selfs die oorsteek van die rivier met motorvoertuie is 'n probleem. Dikwels word eenvoudige ponte gebruik. Sedert 1970 is daar 'n brug by die Mkwenda-grenspos by Matchedje in die Njassa-provinsie. By die Mtamaswala-grenspos tusssen Negomane in Mosambiek en Masuguru in Tanzanië is in 2010 die Eenheidsbrug (Ponte da Unidade) van 600m lank geopen. Dit is die enigste brug werklik geskik vir motorvoertuie.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]In 1862 het die sendeling David Livingstone na bewering tot 'n 250km van die mond af met sy boot Pioneer gevorder. Stroomversnellings het sy verdere vaart daar teengehou. Laat in die 19de eeu het daar politieke spanning in hierdie grensgebied geheers tusssen Brittanje, Portugal (die koloniale heerser in Mosambiek) en Duitsland (die koloniale bewindhebber in Tanganjika). Tydens die Eerste Wêreldoorlog het Duitse soldate op 25 November 1917 die rivier by Negomane na Mosambiek oorgesteek.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- africageographic.com
- google.com/maps
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 9. Kaapstad: Nasou, 1973. ISBN 0-625-00325-X
