VOOZH about

URL: https://af.wikipedia.org/wiki/Afrika

⇱ Afrika - Wikipedia


Gaan na inhoud
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Afrika is die wêreld se tweede grootste kontinent (na Asië) in sowel oppervlakte as bevolking. Saam met die eilande beslaan dit ongeveer 30221532km² wat 20,3% van die totale landoppervlakte van die aarde is en dit word bewoon deur meer as 1 miljard mense – ongeveer 'n sewende van die wêreldbevolking.

Lande

[wysig | wysig bron]
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Lys van Afrika-lande.
👁 Image
Nasa-Satellietbeeld van Afrika
👁 Image
Kaart van Afrika
👁 Image
Politiese kaart van Afrika
👁 Image
Die Verenigde Nasies se indeling van Afrika in substreke:[2]
👁 Image
Verspreiding van godsdienste in Afrika
Naam van streek en gebied, met vlag Oppervlak
(km²)
Bevolking[3] Jaar Bevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
Noord-Afrika
👁 Vlag van Algerië
Algerië
2381740 34178188 2009 14 Algiers
👁 Vlag van Ceuta
Ceuta (Spanje)
20 71505 2001 3575
👁 Vlag van Egipte
Egipte
1001450 82868000 2012 83 Kaïro
👁 Vlag van Kanariese Eilande
Kanariese Eilande (Spanje)
7492 2118519 2010 226 Las Palmas de Gran Canaria,
Santa Cruz de Tenerife
👁 Vlag van Libië
Libië
1759540 6310434 2009 4 Tripoli
👁 Vlag van Madeiraeilande
Madeiraeilande (Portugal)
797 245000 2001 307 Funchal
👁 Vlag van Marokko
Marokko
446550 34859364 2009 78 Rabat
👁 Vlag van Melilla
Melilla (Spanje)
12 66411 2001 5534
👁 Vlag van Soedan
Soedan
1861484 30894000 2008 17 Khartoem
👁 Vlag van Tunisië
Tunisië
163610 10486339 2009 64 Tunis
👁 Vlag van Wes-Sahara
Wes-Sahara
266000 405210 2009 2 Laâyoune
Horing van Afrika of Noordoos-Afrika
👁 Vlag van Djiboeti
Djiboeti
23000 623891 2012 22 Djiboeti
👁 Vlag van Eritrea
Eritrea
121320 5647168 2009 47 Asmara
👁 Vlag van Ethiopië
Ethiopië
1127127 84320987 2012 75 Addis Abeba
👁 Vlag van Somalië
Somalië
637657 9832017 2009 15 Mogadisjoe
Oos-Afrika
👁 Vlag van Burundi
Burundi
27830 8988091 2009 323 Bujumbura
👁 Vlag van Comore-eilande
Comore-eilande
2170 752438 2009 347 Moroni
👁 Vlag van Kenia
Kenia
582650 39002772 2009 66 Nairobi
👁 Vlag van Madagaskar
Madagaskar
587040 20653556 2009 35 Antananarivo
👁 Vlag van Malawi
Malawi
118480 14268711 2009 120 Lilongwe
👁 Vlag van Mauritius
Mauritius
2040 1284264 2009 630 Port Louis
👁 Vlag van Mayotte
Mayotte (Frankryk)
374 223765 2009 490 Mamoudzou
👁 Vlag van Mosambiek
Mosambiek
801590 21669278 2009 27 Maputo
👁 Vlag van Réunion
Réunion (Frankryk)
2512 743981 2002 296 Saint-Denis
👁 Vlag van Rwanda
Rwanda
26338 10473282 2009 398 Kigali
👁 Flag of Seychelles
Seychelle
455 87476 2009 192 Victoria
👁 Vlag van Suid-Soedan
Suid-Soedan
619745 8260490 2008 13 Joeba
👁 Vlag van Tanzanië
Tanzanië
945087 44929002 2009 43 Dodoma
👁 Vlag van Uganda
Uganda
236040 32369558 2009 137 Kampala
👁 Vlag van Zambië
Zambië
752614 11862740 2009 16 Lusaka
👁 Vlag van Zimbabwe
Zimbabwe
390580 11392629 2009 29 Harare
Sentraal-Afrika
👁 Vlag van Angola
Angola
1246700 12799293 2009 10 Luanda
👁 Vlag van Ekwatoriaal-Guinee
Ekwatoriaal-Guinee
28051 633441 2009 23 Malabo
👁 Vlag van Gaboen
Gaboen
267667 1514993 2009 6 Libreville
👁 Vlag van Kameroen
Kameroen
475440 18879301 2009 40 Yaoundé
👁 Flag of the Republic of the Congo
Kongo
342000 4012809 2009 12 Brazzaville
👁 Flag of the Democratic Republic of the Congo
Demokratiese Republiek die Kongo
2345410 69575000 2012 30 Kinshasa
👁 Vlag van São Tomé en Príncipe
São Tomé en Príncipe
1001 212679 2009 212 São Tomé
👁 Vlag van Sentraal-Afrikaanse Republiek
Sentraal-Afrikaanse Republiek
622984 4511488 2009 7 Bangui
👁 Vlag van Tsjad
Tsjad
1284000 10329208 2009 8 N'Djamena
Suider-Afrika
👁 Vlag van Botswana
Botswana
600370 1990876 2009 3 Gaborone
👁 Vlag van Lesotho
Lesotho
30355 2130819 2009 70 Maseru
👁 Vlag van Namibië
Namibië
825418 2108665 2009 3 Windhoek
👁 Vlag van Suid-Afrika
Suid-Afrika
1219912 51770560 2011 42 Bloemfontein, Kaapstad, Pretoria
👁 Flag of eSwatini
Eswatini
17363 1123913 2009 65 Mbabane
Wes-Afrika
👁 Vlag van Benin
Benin
112620 8791832 2009 78 Porto-Novo
👁 Vlag van Burkina Faso
Burkina Faso
274200 15746232 2009 57 Ouagadougou
👁 Vlag van Gambië
Gambië
11300 1782893 2009 158 Banjul
👁 Vlag van Ghana
Ghana
239460 23832495 2009 100 Accra
👁 Vlag van Guinee
Guinee
245857 10057975 2009 41 Conakry
👁 Vlag van Guinee-Bissau
Guinee-Bissau
36120 1533964 2009 43 Bissau
👁 Vlag van Ivoorkus
Ivoorkus
322460 20617068 2009 64 Abidjan,
Yamoussoukro
👁 Vlag van Kaap Verde
Kaap Verde
4033 429474 2009 107 Praia
👁 Vlag van Liberië
Liberië
111370 3441790 2009 31 Monrovia
👁 Vlag van Mali
Mali
1240000 12666987 2009 10 Bamako
👁 Vlag van Mauritanië
Mauritanië
1030700 3129486 2009 3 Nouakchott
👁 Vlag van Niger
Niger
1267000 15306252 2009 12 Niamey
👁 Vlag van Nigerië
Nigerië
923768 166629000 2012 180 Abuja
👁 Vlag van Senegal
Senegal
196190 13711597 2009 70 Dakar
👁 Vlag van Sierra Leone
Sierra Leone
71740 6440053 2009 90 Freetown
👁 Vlag van Sint Helena
Sint Helena (Verenigde Koninkryk)
420 7728 2012 13 Jamestown
👁 Vlag van Togo
Togo
56785 6019877 2009 106 Lomé
Afrika Totaal 30368609 1001320281 2009 33
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Afrikatale.
👁 Image
Kaart van die tale van Afrika

Die meeste amptelike tale van Afrika is Indo-Europese tale soos Frans, Engels, Portugees, Spaans en Afrikaans.

  • Frans: Benin, Burkina Faso, Burundi, Demokratiese Republiek van die Kongo, Djiboeti, Gaboen, Guinee, Ivoorkus, Kameroen, Mali, Madagaskar, Mauritanië Niger, Republiek van die Kongo, Rwanda, Senegal, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Sierra Leone, Togo en Tsjad.
  • Engels: Botswana, Gambië, Ghana, Kenia, Lesotho, Liberië, Malawi, Namibië, Nigerië, Soedan, Suid-Afrika, Suid-Soedan, eSwatini, Tanzanië, Uganda, Zambië, Zimbabwe.
  • Portugees: Angola, Ekwatoriaal-Guinee, Kaap Verde en Mosambiek.
  • Spaans: Ekwatoriaal-Guinee en Wes-Sahara.
  • Afrikaans: Suid-Afrika (en Namibië tot 1990)
  • Duits: Namibië (tot 1990)

Naas hierdie Indo-Europese tale word daar ook verskillende Afrikatale gepraat. Hulle is onderverdeel in Afro-Asiaties, Niger-Kongo, Khoisan, Nilo-Sahariese en Austronesies.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Die hoogste punt van Afrika is Kilimandjaro, 5895m bo seevlak en die laagste punt is die Assalmeer, 155m onder seevlak. Die Saharawoestyn is in die noorde van Afrika terwyl die Groot Skeurvallei in Oos-Afrika is. Die grootste rivier is die Nylrivier en die grootste meer is die Victoriameer. Die grootste land volgens oppervlakte is Algerië en volgens bevolking Nigerië.

Afrika, wat 'n oppervlakte van ruim 30miljoenkm² beslaan, is na Asië en die Amerikas die derde grootste vasteland ter wêreld. Hoewel die ewenaar Afrika feitlik reëlreg in die helfte sny, dit is nou van noord na suid gesien, lê sowat twee derdes van die landmassa in die Noordelike Halfrond. Verreweg die grootste deel, meer as twee deer­des, lê tussen die Kreefskeerkring en die Steenbokskeerkring, en maak van Afrika die mees tropiese van alle vastelande.

Afrika-skild

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Die Groot Skeurvallei van Oos-Afrika

Kenmerkend van Afrika is die algemene plat voorkoms van die landskap. Die grootste deel van die vasteland bestaan uit valleie en hoë plato's, met enkele heuwels en berge wat bokant die landskap uittroon. Die byna plat voorkoms van die landoppervlakte kan toegeskryf word aan die hoe ouderdom van 'n groot deel van die kontinent. Afrika bestaan uit 'n geweldig groot deel oeroue gesteentes wat in die verre verlede die diepliggende dele van die berge gevorm het. Met verloop van tyd het die berge deur verwering weggeslyt, behalwe waar daar baie harde gesteentes naby die oppervlak was, wat meer weerstand teen erosie kon bied.

Só 'n ou geologiese vorming word 'n skild genoem. Daar is talle aanduidings dat die Afrika-skild, sowel as soortgelyke geologiese skilde soos dié in Suid-Amerika, Australië, Indië en Antarktika, oorspronklik een groot vasteland, naamlik Gondwanaland, gevorm het.

Die vastelande het stadig uitmekaar gedryf tot in hul huidige posisies op die aardbol. Volgens die teorie was die eiland Madagaskar, eers deel van Afrika (Plaattektoniek).

Weens verskeie vertikale bewegings is die Afrika-skild verdeel in 'n aantal skolle of verskuiwingsblokke, elk met 'n skoffelvormige bovlak, met 'n versonke middelste vlak. In Suider-Afrika is die plato's of tafellande hoër as die verder noord. Die gemiddelde hoogte in die suidelike deel van die kontinent is sowat 1000meter bo seespieël, terwyl die Drakensberge, wat 'n opvallende "skottelrand" het, hoër as 3000m is.

Die Kongo-bekken lê sowat 300meter bo seespieël, terwyl sy kante omtrent 1000meter hoog is. Noord van die bekken is die gemiddelde hoogte laer. Die diepste deel van die Sahara-bekken lê onder seespieël.

Afrika kan dus gesien word as 'n reeks plato's en valleie wat trapsgewys van suid na noord daal, met net enkele natuurlike grense tussenin.

Slenkvalleis en vulkane

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Die Afrika-plaat

In die oostelike dele van Afrika het reuse-breuk­ vormings, saam met vulkaniese uitbarstings, die landskap heeltemal verander. Hier is die landmassa letterlik "gebreek". So het lang en diep valleie (slenke) gevorm, wat deel vorm van 'n slenkstelsel wat van die Jordaanvallei, deur die Rooisee en Ethiopië, na die Shire-vallei in Mosambiek loop. In Oos-Afrika verdeel die slenkstelsel in twee takke waar tussen die aardkors opgedruk is.

Op die plato lê die groot, maar vlak Victoriameer (skaars 80m diep). Die westelike een van die twee groot slenkdale, naamlik die Groot Skeurvallei, kan duidelik op 'n kaart herken word omdat dit só 'n reeks smal, diep mere gevorm het van noord na suid kry 'n mens die Albertmeer, die Edwardmeer, die Kivumeer, die Tanganjikameer en die Malawimeer (Njassameer). Die oostelike lyn, wat sy beginpunt by die seestraat van Bab-el-Mandeb het, is met die eerste oogopslag nie so maklik herkenbaar nie. Die grootste meer wat hier gevorm het, is die Turkanameer, voorheen bekend as die Rudolfmeer.

Hoewel vulkaniese werkinge nog nie heeltemal uitgewoed is nie, het dit vandag nie naastenby die omvang en intensiteit wat dit voorheen gehad het nie. Daarvan getuig die groot, uitgewerkte vulkane wat tot vandag toe Afrika se hoogste berge is. Die hoogste berg is Kilimandjaro naby die grens tussen Kenia en Tanzanië. Dit is 5895m hoog. Hoewel dit in die middel van die tropiese gebied geleë is, is dit ewigdurend ook met sneeu bedek. Ander uitgewerkte vulkane is Berg Kenia (5199m) en die Elgon­-gebergte (4321m), onderskeidelik in Kenia en op die grens tussen Kenia en Uganda. 'n Ander belangrike bewys van vulkaniese werkinge bestaan in die vorm van die lawa-afsettings wat groot oppervlaktes in Ethiopië en die hooglande van Oos-Afrika bedek.

Kameroenberg in Wes-Afrika is deur 'n soortgelyke proses gevorm, maar op 'n kleiner skaal: in dié gebied het vulkaniese werkinge 'n groter rol gespeel as breukvorm­ing, en die opstoot van aardkorsdele na bo. Kameroenberg loop tot onder die see deur. Daarvan getuig die eilandreeks Fernando Po, Principe, Sao Tomé en Annobón.

Die vorming van bergreekse deur plooiing van die aardkors in die latere geologiese tydperke, het weinig invloed op Afrika gehad, meestal ook net aan die noordelike en suidelike rande. Hierdeur het die Atlasgebergte in die noordweste gevorm, heel waarskynlik in ongeveer dieselfde tyd as wat die groot bergreekse in Eurasië gevorm is.

Riviere en mere

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Stroomgebiede van Afrika se groot riviere

Behalwe vir die Atlasgebergte met sy talle klein riviertjies, toon die waterverspreidingspatroon van Afrika 'n baie duidelike patroon wat ooreenstem met die relatief eenvoudige struktuur van die vasteland. Daar is 'n paar groot ri­vierbekkens, asook etlike bekkens wat nie na die see uitloop nie. Sowat een derde van Afrika se water loop nie uit na die see weens die geringe reënval. Dit geld vir die Sahara én die Kalahari én die hoogliggende droë plato's in Suid-Ethiopië en Noord-Kenia.

Die riviere in die beskutte Oos-Afrika-bekken vloei uit in die Turkanameer. Aangrensend aan die Sahara en die Kalahari lê die groot moerasagtige mere, naamlik die soet Tsjadmeer, wat waarskynlik ondergronds deur soetwaterstrome gevoed word en die Okavangomoerasse, wat weens 'n verdampingsproses soutwater bevat. Belangrike rivierbekkens is die Nylbekken, die Kongo-bekken, die stroomgebied van die Niger in Wes-Afrika, die Zam­bezi in die suidooste, en die Oranjerivier in Suider-Afrika.

In die algemeen is die riviere minder belangrik vir skeepvaart. Die Niger- en die Oranjerivier is byvoorbeeld in die droë seisoen te vlak vir skeepvaart. Die water van die Oranjerivier bereik selfs nie eers gedurende die hele jaar deur die see nie.

Verder het die kenmerkende platovoorkoms van Afrika tot gevolg dat die meeste riviere juis by die kus waar die platorand skielik ophou, opskiet bo 'n smal kusvlakte en watervalle of stroomversnellings tot gevolg het. Riviere vorm ook watervalle teen die kante van die plato's in die binneland waarvan talle baie indrukwekkend is.

Afrika se beroemdste waterval is die Victoria-waterval op die grens tussen Zambië en Zimbabwe waar die water van die Zambezi 100m na benede stort. Een voordeel van dié stapsgewyse afdaling van die Afrika-rivierbeddings, is dat daar op die vasteland talle geleenthede bestaan vir hidroëlektriese kraginstallasies.

Klimaat en natuurlike plantegroei

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Klimaatsones in Afrika volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
👁 Image
Biome van Afrika
👁 Image
Afrika-olifante en kwaggas in die Serengeti van Tanzanië

Omdat die ewenaar deur die middel van Afrika loop, is die patroon van die klimaat en plantegroeistreke wat in die Noordelike Halfrond lê, in 'n groot mate dieselfde as in die Suidelike Halfrond.

Dat dit nie heeltemal dieselfde is nie, kan toegeskryf word aan die feit dat die noordelike deel baie wyer is, en net deur diesmal Rooi See van Eurasië se landmassa geskei word, terwyl die invloed van die Indiese Oseaan tot diep in die binneland van Suider-Afrika waargeneem kan word.

Die belangrikste verskil tussen die noorde en die suide is dat die wêreld se grootste woestyn, die Sahara, in die Noordelike Halfrond is, terwyl die woestyngebiede van Suider-Afrika (die Namib en die Kalahari) baie kleiner is.

Die simmetrie van die noordelike en suidelike helftes word ook verbreek deur die hoe plato's, en dit beïnvloed ook die reënvalpatroon en temperatuur. Behalwe vir die verskille tussen die hooglande en die laerliggende dele, word die klimaat verskille van Afrika hoofsaaklik bepaal deur verskille in reënval en nie deur verskille in temperatuur nie.

Temperatuur speel natuurlik ook 'n rol, maar (behalwe by die hoogste bergpieke) verander dit nie die algemene toestand dat Afrika regdeur die jaar warm bly. In die tropiese dele van Afrika word die seisoenverskille in reënval bepaal deur die ekwatoriale laag-drukstelsel wat 'n baie hoër reënvalsyfer tot gevolg het. In die winter (somer in die Noordelike Halfrond), beweeg die reënsone noord en in die somer van die Suidelike Halfrond (winter in die Noordelike Halfrond) beweeg dit suid. 'n Strook weerskante van die ewenaar bly regdeur die jaar onder die invloed van die reëngordel. 'n Breë sone aan weerskante van hierdie gordel ken 'n baie droë en 'n baie nat seisoen. Vir 'n gedeelte van die jaar heers daar dan 'n tropiese reënklimaat, terwyl dit die res van die jaar oorwegend droog is. Hierdie streek word dan beïnvloed deur die droë luggordels noord en suid van die vogtige ekwatoriale sone wat gedurende die loop van die jaar van noord na suid verskuif. Hoe verder daar, van die ewenaar beweeg word, hoe langer word die droë seisoen, omdat die reënstrook sy invloed vir 'n steeds korter tyd uitoefen. Die oorgang van vogtige na droë klimaat is gewoonlik geleidelik omdat daar geen topografiese grense is wat een klimaatsones van 'n ander skei nie. Om dieselfde rede is die klimaat wisselvallig, veral in die droër seisoene.

Die reëngordel beweeg nie volgens riglyne nie, omdat dit nie deur topografiese kenmerke gelei ward nie. Daarom is die begin van die reënseisoen moeilik voorspelbaar een jaar is dit vroeg, die volgende jaar laat. Soms val daar baie reën, dan weer minder. Die sones met wisselende droë en nat seisoene beweeg geleidelik oor na die woestyngebiede waar 'n stortbui baie selde voorkom.

In die suidelike deel van die vasteland is die woestyn relatief klein. Die Namibwoestyn, wat aan die kus van Namibië lê, is uiters droog. Die Kalahari in Botswana is in der waarheid eerder 'n halfwoestyn. Die reusagtige Sahara in die noorde word elke jaar steeds groter en brei veral na die suide uit omdat baie min reën voorkom. Dit vorm deel van 'n droëgordel wat tot diep in Asië strek.

'n Middellandse Seeklimaat, 'n klimaat wat bestaan uit droë, warm somers, en koeler winters wanneer die meeste reën voorkom, oorheers in die noordweste en die suidelike grensgebiede van Afrika. Die patroon van Afrika se plantegroei hang van die klimaatstreke af.

Tropiese reënwoude groei in die natste dele, in die hartjie van die Kongo-bekken en die kus van Wes-Afrika. 'n Ander soort reënwoud sorg vir die natuurlike plantegroei teen die nat en reënerige hellings van die Oos-Afrika-hooglande. Rondom die oerwoud, strek die vogtige savanne of grasvlakte met hoë, wuiwende gras en hoë bome. Namate die klimaat droër word, groei die gras, en selfs die bome, laer as gewoonlik. Die bome met laer kruine begin hul blare in die droë seisoen verloor. Doringbosse en Acasias is kenmerkend van die droë savanne. Hoe nader daar aan die grense van die woestyn beweeg word, hoe yler word die plantegroei. 'n Kleiner gedeelte van Afrika as wat 'n mens sou verwag – minder as 10% – is heeltemal bar. Die boomlose grasveld in die binneland van Suid-­Afrika sorg vir uitstekende landboumoontlikhede.

Fauna en flora

[wysig | wysig bron]
👁 Image
'n Afrika-olifant en kremetart in Tanzanië
👁 Image
'n Kameelperd kom 'n swartrenoster in die Nasionale Etoshawildtuin, Namibië, teë
👁 Image
'n Jagluiperd verwurg 'n rooibok in die Timbavati-wildreservaat, Suid-Afrika

Afrika het nie so baie oerwoude soos wat die algemene indruk is nie. Die grootste deel van sy oppervlakte bestaan uit uitgestrekte vlaktes, woestyne en savannes. Gedeeltelik is dit die natuurlike gevolg van prehistoriese vulkaniese uitbarstings. Die vulkaniese afsettings is net deur 'n dun lagie grond bedek waarin bome hulle moeilik kon vasanker. Die mens het die toestand later aansienlik laat toeneem deur brande, oorbeweiding en ander bedrywighede wat erosie bevorder. Die klimaat het ook sy invloed laat geld. Die afgelope miljoen jaar het die klimaatstoestande drie keer gewissel van vogtig en nat tot droog. Só het die eens uit gebreide tropiese reënwoud al hoe kleiner geword. Aan die ander kant het die veranderinge in die klimaat die dier- en plantsoorte gedwing om hulle by die nuwe omstandighede aan te pas. Só het 'n groot verskeidenheid fauna en flora ontwikkel. Dat Afrika steeds die woonplek van die groot soogdiere is, is te danke aan die savannes en uitgestrekte grasvlaktes met verspreide boomgroepe. Ondanks die bedreiging wat die mens inhou, floreer reuse-troppe wildsbokke, sebras en buffels nog hier in die ongerepte dele van Afrika. Hul getalle word beheer deur leeus, luiperds, jagluiperds, hiënas, wildehonde, jakkalse en ander vleisvretende roofdiere. Kameelperde, renosters en Afrika-olifante is ook bewoners van die grasvlaktes, hoewel daar 'n soort olifant is wat net in die bosse bly. Die voëllewe bied 'n besondere verskeidenheid. Nêrens ter wêreld is daar so baie roofvoëls soos hier nie. Dit wissel van reuse-aasvoëls wat op groot stukke wildaas leef tot klein dwergvalke wat net van insekte leef. Die grootste voël ter wêreld, die volstruis, wat tot 3m lank kan word, word net in die savannes of grasvlaktes van Afrika aangetref. Onder die kenmerkende bome en struike wat wyd voorkom, is die kremetartboom (Adansonia digitata), ook bekend as die baobab of apebroodboom, en sekere Acacia-soorte. Die grootste woestyn in Afrika is die Sahara. Die yl plantegroei bestaan uit xerofiete of woestynplante wat hulle op een of ander manier by die droogtetoestand aangepas het. Hier kan 'n onderskeid getref word tussen grondwater en reënwaterplante. Grondwaterplante het baie lang wortels om die diep ondergrondse water maklik te kan bereik. Aalwyne kan hulle byvoorbeeld besonder goed by sulke toestande aanpas.

Reënwaterplante oorleef op hulle beurt weer deur middel van hul sade wat hul ontkiemingskrag vir jare kan behou. Wanneer dit wel reën, blom die reënplante binne 'n byna ongelooflik kort tyd.

Honderdduisende dadelpalms en ander vrugtebome word by oases aangeplant. Daarom is die plantegroei daar altyd weelderig. Die oorspronklike oaseplantegroei, wat waarskynlik uit struike soos die selonsroos (Nerium oleander) en bome soos die tamarinde (Tamarindus indica) bestaan het, het feitlik verdwyn.

Die gebrek aan voedsel en skuiling, maak die lewe baie moeilik vir die groter soogdiere wat uit die aard van die saak 'n maklike prooi vir mensejagters is. Diere soos die jagluiperd, die rooihartbees, die damhert, 'n wildsboksoort, en die sierlike gemsbok, is feitlik heeltemal uitgeroei in die woestyngebiede. Die sandheuwels van die Kala­hariwoestyn is toegegroei met harde grassoorte, veral vingergras en ander soorte soetgras. In die valleie groei die sogenaamde "lewende klippe", die woestynplante, wat baie soos klippe lyk, maar hier eindig die ooreenkoms: die beskermde planthuid sorg daarvoor dat baie min vog ontsnap. Gevolglik is hul weefsel in der waarheid voedsaam en sappig.

Die Namib-woestyn in Namibië is een van die mees onherbergsame streke ter wêreld. Ook hier is die harde aapstertstreekgras (Aristida congesta) van die min plante wat aangetref word. Die beroemde Welwitschiaplant (Welwitschia mirabilis) kan ondanks die meedoënlose klimaat honderde jare aan die lewe bly.

Die tropiese reënwoude kom voor in gebiede waar die reënval meer as 1500mm per jaar is. Weens die vogtigheid en die baie hitte, is daar altyd 'n immergroen en baie weelderige, digte plantegroei. In Afrika word reënwoude hoofsaaklik langs die Weskus aangetref.

Ruimte vir groot troppe is daar nie en die meeste soogdiere is alleen­lopers. Hulle is gewoonlik sku diere wat snags aktief is. Een van die grootste inwoners van die reënwoud is die okapi ('n skaars verwant van die kameelperd), die boseland en die reuse-bosvark.

Die sterkste aapsoort is die gorilla soos die laagland-gorilla van Nigerië, Kameroen en die Kongo, en die berggorilla van Uganda en die vulkaangebied van die oostelike Kongo, waar dit tot op 'n hoogte van 4000m voorkom.

Die ander mensaap van Afrika, die sjimpansee, kan heel gemaklik in die grasvlaktes leef, maar is in die oerwoud beter teen mense beskerm.

Die reënwoude het ook talle belangrike bruikbare plante opgelewer soos die oliepalm, en die tropiese kola- en die koffieboom.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Gudmastad, Ericha (2013). "2013 World Population Data Sheet" (PDF). www.prb.org (in Engels). Population Reference Bureau. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2017. Besoek op 18 Augustus 2015.
  2. "Standard Country or Area Codes for Statistical Use" (in Engels). Millenniumindicators.un.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2020. Besoek op 25 Augustus 2012.
  3. (en) USCensusBureau:Countries and Areas Ranked by Population: 2009 Geargiveer 13 Oktober 2013 op Wayback Machine

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Kontinente van die wêreld

👁 Image

Afrika-Eurasië
👁 Image

Amerikas
👁 Image

Eurasië
👁 Image

Oseanië

👁 Image

Afrika
👁 Image

Antarktika
👁 Image

Asië
👁 Image

Australië
👁 Image

Europa
👁 Image

Noord-Amerika
👁 Image

Suid-Amerika

Geologiesesuperkontinente: Gondwana· Laurasië· Pangaea· Rodinia· Ur· Vaalbara