VOOZH about

URL: https://af.wikipedia.org/wiki/Europa

⇱ Europa - Wikipedia


Gaan na inhoud
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
👁 Ligging van Europa op 'n wêreldkaart
Oppervlakte 10180000km² (6de)
Bevolking 742452000 (2013, 3de)
Bevolkingsdigtheid 73/km²
Lande ~50 (en ~5 omstrede)
Afhanklike gebiede 6
Taalfamilies Indo-Europees
Oeraals
Turks
Baskies
Semities
Noordwes-Kaukasies
Noordoos-Kaukasies
Mongools
Tydsones UTC-1 (Ysland) tot UTC+4 (Rusland)
Grootste stede 👁 Vlag van Turkye
Istanboel (transkontinentaal)
👁 Vlag van Rusland
Moskou
👁 Vlag van Frankryk
Parys
👁 Vlag van Verenigde Koninkryk
Londen
👁 Vlag van Spanje
Madrid
👁 Vlag van Spanje
Barcelona
👁 Vlag van Rusland
Sint Petersburg
👁 Vlag van Italië
Rome
👁 Vlag van Duitsland
Berlyn
Vir die vierde grootste maan van die planeet Jupiter, sien Europa (maan).

Europa (afgelei van Grieks Εὐρώπη of Eurṓpē) is 'n vasteland wat oor die westelike vyfde van die Eurasiese landmassa strek. Alhoewel dit in geografiese opsig eerder as subkontinent geklassifiseer kan word wat saam met Asië die vasteland van Eurasië vorm, word dit vanweë sy historiese en kulturele ontwikkeling meestal as selfstandige kontinent beskou. Eeue lank was Europa in kulturele en ekonomiese opsig die middelpunt van die wêreld. So het die term Europa naas sy geografiese definisie ook betrekking op kulturele, politieke, ekonomiese, regtelike en ideële aspekte.

Die naam Europa strek in sy Griekse vorm Εὐρώπη ver terug. Hier is die term Eurṓpē meestal as 'n samestelling van die Oud-Griekse εὐρύς (eurýs, "wyd") en ὄψ (óps, "sig, gesig") opgevat – dus was Eurṓpē "die (vrou) met die wye sig".

Volgens die Griekse mitologie was Europa die naam van 'n Fenisiese koningsdogter wat deur die god Zeus in die gestalte van 'n stier swemmend na die eiland Kreta ontvoer en daar deur hom verlei is. Sommige etimoloë neem aan dat hierdie naam oorspronklik aan 'n Semitiese taal ontleen en daarna vergrieks is.[1] Dit is moontlik van die Fenisiese erob "donker" of "aand" afgelei.

Geografie

[wysig | wysig bron]
👁 Image
'n Satellietfoto van Europa (ortografiese projeksie)

Europa word deur die Bosporus en die Dardanelle van Klein-Asië geskei en deur die Middellandse See en die Straat van Gibraltar van Afrika. In die weste word dit deur die Atlantiese Oseaan en in die noorde deur die Noordoostelike Yssee begrens. In die suide, weste en noorde strek seearms van die Atlantiese Oseaan diep in die landmassa in en maak van Europa die vasteland met die mees onreëlmatige kuslyn – die hartland word deur talle skiereilande en eilande omring.

In die ooste is daar geen presiese geografiese of geologiese grens tussen Europa en Asië nie. Die "grense van Europa" word dus as gevolg van maatskaplike konvensies bepaal, terwyl 'n geografiese definisie van Europa steeds willekeurig is. So het die Franse filosoof Bernard-Henri Lévy opgemerk dat Europa eerder 'n "gedagte" sou wees as 'n plek.

Die Sweedse offisier en aardrykskundige maar Duitse boorling Philip Johan von Strahlenberg (1676–1747) het die Oeralgebergte en -rivier as die oostelike grens van Europa gedefinieer. Tussen die Kaspiese See en die Swart See loop die grenslyn noord van die Kaukasus-gebergte.

Europa strek oor 'n oppervlakte van sowat 10,5 miljoen vierkante kilometer en is dus die tweede kleinste vasteland ná Australië. Die mees noordelike punt van die Europese vasteland lê op die skiereiland Nordkinn in Noorweë, die mees suidelike is die Punta de Tarifa in Spanje, die mees westelike die Cabo da Roca in Portugal. In noord-suidelike rigting strek die vasteland oor 'n afstand van sowat 3800 kilometer, in oos-westelike rigting oor sowat 6000 kilometer, vanaf die Oeralgebergte in Rusland tot by die Atlantiese kus van Portugal.

Topografie

[wysig | wysig bron]

Wes-Europa kan rofweg in drie groot landskapsvorme verdeel word: die vlaktes van die noordweste en noorde, die laer bergreekse en die relatief jong hoë bergreeks wat nog gedeeltelik vergletser is en vanuit die Pireneë-bergreeks langs die Frans-Spaanse grens oor die Alpe van Sentraal-Europa tot by die Karpate-bergreeks strek. Hieraan sluit aan: die Pireneë-, Apennyne- en Balkanskiereilande in die suide, Skandinawië, Jutland en die Britse Eilande in die noorde. Oos-Europa is 'n wydgestrekte en amper eenvormige vlakte wat van die Noordelike Yssee tot by die Swart See strek.

Waterliggame

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Finland is eweneens bekend as "die Land van die Duisend Mere".[2][3]

Die meeste groot Europese riviere het dwarsdeur die jaar genoeg water om as belangrike waterweë en lewensare te dien. Baie van hulle word deur kanale met mekaar verbind. Die meeste Europese mere is in die vroeër vergletserte gebiede van Noord-Europa en aan die voet van die Alpe geleë. Die langste riviere is Wolga (3531km), Donau (2858km), Dnjepr (2201km) en onder meer die Ryn (1320km); die grootste mere sluit die Ladogameer (17700km²), Onegameer (9720km²) en Vänernmeer (5584km²) in.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Sneeu op die kerkhof van Mariazell, Oostenryk

Vanweë die nou verbinding tussen land en see en die bergreekse wat van wes na oos loop word Europa in klimatiese opsig deur die heersende westelike winde en die matigende invloed van die warm Golfstroom gekenmerk – so trek die vasteland voordeel uit baie gunstige klimaattoestande met 'n gematigde seeklimaat wat dwarsdeur die jaar reënval verseker, soms selfs jaarlikse neerslae van meer as 2000 millimeter. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Bordeaux, Suidwes-Frankryk beloop byvoorbeeld 12,8°C, terwyl Halifax in die Kanadese provinsie Nova Scotia met slegs 6,3°C merkbaar koeler is – ofskoon dit op dieselfde breedtegraad lê.

Hierdie seeklimaat gaan eers ver in die ooste en suidooste in 'n kontinentale klimaat met groter seisoenale temperatuurskommelinge en somerreën met soms minder as 500 millimeter per jaar oor. Net die gebied suid van die Alpe-bergreeks strek tot in die subtropiese sone met droë somers en winterreën, die sogenaamde Mediterreense klimaat. Die uiterste noorde van Europa het 'n Arktiese klimaat.

Demografie

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Verspreiding van tale in Europa
👁 Image
Bevolkingsgroei in en rondom Europa in 2010[4]

In 2017 is die bevolking van Europa deur die Verenigde Nasies rondom 742 miljoen geskat,[5] wat effens meer as een negende van die wêreldbevolking is. Hierdie getal sluit Siberië (ongeveer 38 miljoen mense) in, maar die Europese Turkye (ongeveer 12 miljoen) is uitgesluit.

In die 20ste eeu het Europa byna 'n kwart van die wêreldbevolking gehad.[6] Die bevolking van Europa het in die afgelope eeu gegroei, maar in ander wêrelddele (veral Afrika en Asië) het die bevolking vinniger gegroei.[7] Onder die vastelande het Europa 'n relatiewe hoë bevolkingsdigtheid, tweede net na Asië. Die grootste deel van Europa is in 'n modus van sub-vervangingsvrugbaarheid, wat beteken dat elke nuwe (gebore) generasie minder bevolk word as die ouer.

Volgens taal en historiese ontwikkeling word 95 persent van die bewoners by die Indo-Europese volksgroepe gereken (waarvan 'n derde Germane en Kelte, 'n derde Slawiërs, 'n kwart Romane en kleiner groepe van Grieke, Albanese en Balte), vyf persent is Fins-Oegriese volke.

Ná die laaste kouetydperk het talle volksgroepe hulle in Europa gevestig en oor die eeue met mekaar vermeng. Die Christelike beskawing (met Rooms-Katolieke, Protestante en Ortodokse) vorm die basis vir die oorgrote meerderheid van Europese kulture.

Europa is 'n dig bevolkte en verstedelikte vasteland. Sy nywerheidsgebiede word deur 'n baie hoë bevolkingsdigtheid van tussen 250 en meer as 1000 inwoners per km² gekenmerk, veral dele van die Verenigde Koninkryk, Noord-Frankryk en Duitsland, Nederland, Noord-België, Noord-Italië, Opper-Silesië in Suidwes-Pole en dele van Oekraïne. Daarenteen is die bergstreke, Noord- en Oos-Europa met soms minder as 10 inwoners per km² yl bevolk. Die digbevolkste land in Europa (en in die wêreld) is die mikrostaat Monaco.

Politiek

[wysig | wysig bron]

Die politieke kaart van Europa is aansienlik afgelei van die herorganisasie van Europa na die Napoleontiese Oorloë in 1815. Die heersende vorm van regering in Europa is parlementêre demokrasie, in die meeste gevalle in die vorm van 'n republiek. In 1815 was die heersende vorm van regering nog steeds die monargie. Europa se oorblywende elf monargieë (behalwe die mikrostaat van Vatikaanstad) is grondwetlike monargieë.

Europese integrasie is die proses van politieke, wettige, ekonomiese (en in sommige gevalle sosiale en kulturele) integrasie van Europese lande, aangesien dit voortgesit word deur die magte wat die Raad van Europa geborg het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Die Europese Unie is, sedert sy stigting in 1993, die fokus van ekonomiese integrasie op die kontinent. Meer onlangs is die Eurasiese Ekonomiese Unie tot stand gebring as 'n eweknie wat uit voormalige Sowjetstate bestaan.

27 Europese lande is lede van die politiek-ekonomiese Europese Unie, 26 van die grensvrye Schengen-gebied en 19 van die monetêre unie Eurosone. Onder die kleiner Europese organisasies is die Nordiese Raad, Benelux, die Baltiese Vergadering en die Visegrád-groep.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
👁 Image
Steenkoolaangedrewe stoomenjins het die nywerheidsomwenteling in Engeland en ander dele van Europa aangedryf

In die 19de eeu het Europa danksy die nywerheidsomwenteling, wat sy aanvang in Engeland geneem en later oor die hele vasteland uitgebrei het, die leidende rol in die wêreldekonomie gespeel. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Europa se ekonomiese struktuur as gevolg van die vasteland se verdeling in markekonomieë (in Wes-Europa) en sosialistiese plan-ekonomieë (in Oos-Europa) ingrypend verander. Hierdie verdeling is eers met die politieke omwenteling van 1989/90 geleidelik oorkom.

'n Verskeidenheid instellings en organisasies, soos die Europese Vryehandelsone EFTA en die Europese Ekonomiese Gemeenskap EEG (die huidige Europese Unie) bygedra tot Europa se vinnige ekonomiese groei wat in baie dele van die kontinent tot in die 1970's en 1980's voortgeduur het. Kenmerkend vir Europa se ekonomie is die sterk handelsbande met ander wêrelddele.

Die Europese landbousektor is grotendeels gemeganiseer en produseer groot oorskotte. Belangrike agrariese produkte van Europa sluit graan, aartappels, suikerbeet en voerplante asook bees-, vark- en skaapvleis. Italië en Frankryk is ook op wêreldvlak die beduidendste wynprodusente.

Europa het 'n wye verskeidenheid natuurlike hulpbronne, alhoewel die ontginning tans stagneer of afneem. So word weens die sterk vraag na ru-olie en aardgas minder steenkool ontgin. Daar is belangrike voorkomste van bruinkool, ystererts, kalisoute en metale. Groter olievelde word in die Noordsee, in Rusland en Roemenië aangetref, terwyl aardgas veral in 'n aantal Wes-Europese lande ontgin word.

Europa is die tweede grootste nywerheidsmag ter wêreld ná Noord-Amerika. Sy nywerhede het aanvanklik veral in gebiede met beduidende natuurlike hulpbronne ontwikkel – hierdie streke is tot vandag die mees digbevolkte dele van die vasteland. Ander belangrike industriële sentrums het in seehawens, groot handelstede en ander nedersettings langs handelsroetes ontwikkel. Hier word onder meer verwerkende nywerhede, tekstiel- en metaalfabrieke, masjienbou, elektriese-, papier- en voedselnywerhede asook drukkerye aangetref. Die vervaardiging van plastiek en elektroniese goedere toon sterk groei.

Ru-olie, aardgas en kernkrag voorsien in die stygende vraag na energie. Hernubare energiebronne soos wind- en sonkrag speel 'n steeds belangriker rol, terwyl waterkrag veral in die Alpelande, in Skandinawië, in Oekraïne en Rusland aangewend word.

Rasionalisering en die verskuiwing van werksgeleenthede na ekonomieë met laer kostestrukture het in dele van Europa tot grootskaalse deïndustrialisasie en die groei van tersiêre bedrywe gelei wat produksie-georiënteer (navorsing, besigheidsadvies, advertensiebedryf en ander) of verbruikers-georiënteer (opleiding, vryetydsaktiwiteite en vermaak) kan wees.

Met die Verdrag van Maastricht het in 1999 aanvanklik twaalf lidstate van die Europese Unie saamgesluit om 'n monetêre unie te vorm. Vanaf 1 Januarie 2002 is Euro-banknote en -muntstukke ingevoer. Die Europese geldeenheid is tans die wettige betaalmiddel in 16 EU-lidlande en ses ander Europese state.

Lande van Europa

[wysig | wysig bron]
Hoofartikel: Lys van Europese lande.
👁 Image
Die lande van Europa met vlae
👁 Image
Politiese kaart van Europa
👁 Image
Die Verenigde Nasies se indeling van Europa in substreke:[8]
██Noord-Europa ██Wes-Europa ██Oos-Europa ██Asiatiese gedeelte van Rusland ██Suid-Europa ██Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Suid-Europa: Turkye ██Asiatiese gedeeltes van hierdie lande ██Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Georgië en Azerbeidjan ██Asiatiese gedeeltes van hierdie lande ██Lande van Sentraal-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Kasakstan ██Asiatiese gedeeltes van hierdie lande
👁 Image
Die Central Intelligence Agency se The World Factbook-indeling van Europa in substreke:
██Noord-Europa ██Wes-Europa ██Sentraal-Europa ██Suid-Europa ██Suidoos-Europa ██Suidwes-Europa ██Oos-Europa
👁 Image
Indeling van Europa in substreke volgens kulturele kriteria
Naam van streek en gebied, met vlag [9] Oppervlak
(km²)
Bevolking[10] Jaar Bevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
Noord-Europa
👁 Vlag van Åland
Åland (Finland)
1580 28666 2013 18 Mariehamn
👁 Vlag van Denemarke
Denemarke
42923 5707251 2016 133 Kopenhagen
👁 Vlag van Estland
Estland
45339 1311759 2016 28 Tallinn
👁 Flag of the Faroe Islands
Faroëreilande (Denemarke)
1399 49709 2013 36 Tórshavn
👁 Vlag van Finland
Finland
338424 5486125 2015 18 Helsinki
👁 Vlag van Letland
Letland
64589 1973700 2014 34 Riga
👁 Vlag van Litaue
Litaue
65300 2884840 2016 45 Vilnius
👁 Vlag van Noorweë
Noorweë
385178 5214900 2016 16 Oslo
👁 Vlag van Swede
Swede
450295 9851017 2015 22 Stockholm
👁 Vlag van Ysland
Ysland
102775 329100 2015 3 Reykjavik
Oos-Europa
👁 Vlag van Armenië
Armenië
29743 3018854 2011 102 Jerewan
👁 Vlag van Azerbeidjan
Azerbeidjan
86600 9624900 2015 106 Bakoe
👁 Vlag van Georgië
Georgië
69420 3729500 2015 54 Tbilisi
👁 Vlag van Kasakstan
Kasakstan
2724900 17563300 2015 6 Astana
👁 Vlag van Roemenië
Roemenië
238391 20121641 2011 84,4 Boekarest
👁 Vlag van Moldowa
Moldowa
33846 2913281 2014 105 Chişinău
👁 Vlag van Oekraïne
Oekraïne
603500 44429471 2015 74 Kiëf
👁 Vlag van Rusland
Rusland
17098242 144192450 2015 8 Moskou
👁 Vlag van Belarus
Belarus
207595 9498700 2016 46 Minsk
Sentraal-Europa
👁 Vlag van Duitsland
Duitsland
357168 81459000 2015 227 Berlyn
👁 Vlag van Hongarye
Hongarye
93030 9855571 2015 107 Boedapest
👁 Vlag van Liechtenstein
Liechtenstein
160 37340 2014 227 Vaduz
👁 Vlag van Oostenryk
Oostenryk
83879 8662588 2015 101 Wene
👁 Vlag van Pole
Pole
312679 38483957 2014 123 Warskou
👁 Vlag van Slowakye
Slowakye
49035 5415949 2013 111 Bratislava
👁 Vlag van Slowenië
Slowenië
20273 2063077 2015 102 Ljubljana
👁 Vlag van Switserland
Switserland
41285 8211700 2014 198 Bern (de facto)
👁 Flag of the Czech Republic
Tsjeggië
78866 10541466 2015 134 Praag
Suid-Europa
👁 Vlag van Albanië
Albanië
28748 2821977 2010 111 Tirana
👁 Vlag van Andorra
Andorra
468 84082 2010 180 Andorra la Vella
👁 Vlag van Bosnië en Herzegowina
Bosnië en Herzegowina
51129 4613414 2010 90 Sarajevo
👁 Vlag van Bulgarye
Bulgarye
110994 7364570 2010 77 Sofia
👁 Vlag van Gibraltar
Gibraltar (Verenigde Koninkryk)
6,8 29431 2010 4328 Gibraltar
👁 Vlag van Griekeland
Griekeland
131990 11295002 2010 85 Athene
👁 Vlag van Italië
Italië
301338 60418711 2010 201 Rome
👁 Flag of Kosovo
Kosovo
10908 1859203 2010 170 Pristina
👁 Vlag van Kroasië
Kroasië
56594 4489409 2010 81 Zagreb
👁 Flag of the Republic of Macedonia
Noord-Masedonië
25713 2114550 2010 82 Skopje
👁 Vlag van Malta
Malta
316 412966 2010 1307 Valletta
👁 Vlag van Montenegro
Montenegro
13812 672181 2010 50 Podgorica
👁 Vlag van Portugal
Portugal
92090 11317192 2010 114 Lissabon
👁 Vlag van San Marino
San Marino
61 31716 2010 501 San Marino
👁 Vlag van Serwië
Serwië
77474 7120666 2010 102 Belgrado
👁 Vlag van Spanje
Spanje
504030 46030109 2010 93 Madrid
👁 Vlag van Turkye
Turkye
783562 78741053 2010 102 Ankara
👁 Flag of the Vatican City
Vatikaanstad
0,44 826 2010 1877 Vatikaanstad
Wes-Europa
👁 Vlag van België
België
30528 11190845 2015 364 Brussel
👁 Vlag van Eiland Man
Man (eiland)
572 84497 2011 148 Douglas
👁 Vlag van Frankryk
Frankryk
643801 66644000 2016 116 Parys
👁 Vlag van Guernsey
Guernsey
78 65849 2014 844 Saint Peter Port
👁 Flag of Ireland
Ierland
70273 4635400 2015 65 Dublin
👁 Vlag van Jersey
Jersey
118 99500 2014 819 Saint Helier
👁 Vlag van Luxemburg
Luxemburg
2586 562958 2015 194 Luxemburg-stad
👁 Vlag van Nederland
Nederland
41543 16971452 2015 18 Amsterdam
👁 Vlag van Verenigde Koninkryk
Verenigde Koninkryk
242495 64716000 2015 256 Londen
Europa Totaal 10180000 742452000 2013 213

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. www.etymonline.com: Europa
  2. Li, Leslie (16 April 1989). "A Land of a Thousand Lakes". The New York Times (in Engels). Besoek op 29 Desember 2021.
  3. Statistieke van Finland
  4. CIA.gov Geargiveer 27 Mei 2016 op Wayback Machine CIA population growth rankings, CIA World Factbook
  5. https://population.un.org/wpp/
  6. Groei van Wêreldbevolking, 1950–2050. Population Reference Bureau. Geargiveer 22 Julie 2013 op Wayback Machine
  7. "World Population Prospects: The 2006 Revision Population Database". UN — Department of Economic and Social Affairs. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Januarie 2010. Besoek op 10 Junie 2008.
  8. "Standard Country or Area Codes for Statistical Use" (in Engels). Millenniumindicators.un.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 April 2020. Besoek op 25 Augustus 2012.
  9. Europese Kontinent/Kaart van Europa
  10. (en) USCensusBureau:Countries and Areas Ranked by Population: 2009 Geargiveer 13 Oktober 2013 op Wayback Machine

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Kontinente van die wêreld

👁 Image

Afrika-Eurasië
👁 Image

Amerikas
👁 Image

Eurasië
👁 Image

Oseanië

👁 Image

Afrika
👁 Image

Antarktika
👁 Image

Asië
👁 Image

Australië
👁 Image

Europa
👁 Image

Noord-Amerika
👁 Image

Suid-Amerika

Geologiesesuperkontinente: Gondwana· Laurasië· Pangaea· Rodinia· Ur· Vaalbara